Denke wat kan Dans: Johan Degenaar en die Kuns van Gesprek
Denke wat kan Dans: Johan Degenaar en die Kuns van Gesprek Voordrag gelewer by die Filosofie Kafee by die Breytenbach-sentrum, Wellington, 6 Mei 2022 Andrew Nash Terugblik, na vyftig jaar Ek het onlangs besef dat dit nou reeds vyftig jaar gelede is dat ek Johan Degenaar vir die eerste keer teëgekom het. Ek was ‘n regstudent aan die begin van my eerste jaar op Stellenbosch. Die regsfakulteit het vier verpligte vakke vir eerstejaars voorgeskryf, en ons moes elkeen ‘n vyfde vak kies uit ‘n groot verskeidenheid eerstejaar-vakke. Ek was ‘n Engelssprekende kind uit Port Elizabeth (nou Gqeberha); ek het nooit tevore iets soos ‘n akademiese jaarboek gesien nie; en ek kon nie dink by wie ek raad hieroor kon vra nie. Toevallig het ek hierdie kwessie van die vyfde vak aan my tante, Mary Murray, genoem, terwyl ek in Kaapstad was, ‘n dag of twee voordat ek in Stellenbosch aangekom het. Sy was kurator van ‘n kunsgalery in Kerkstraat, ‘n skerpsinnige vrou met ‘n wye vriendekring en ‘n sofistikasie w...